Tydens die kenteken word die Verkenner aan die water voorgestel, met verskeie interessante aktiwiteite, soos dieptepeilings, bou en bemanning van 'n weerstasie, hengel en nog vele meer.
Hier word die Verkenner die kuns van roei aangeleer. Daar word van platboom kano's, K1 en K2 kano's, en vlotte gebruik gemaak om die kuns te bemeester. Een van die hoogtepunte is die uitslaap, waartydens die Verkenners met hulle vlotte, kano's, bagasie en kos die kamp verlaat en iewers anders langs die dam gaan oornag.
Tydens dié baie opwindende kursus, word Verkenners die basiese beginsels van seil geleer. Hierdie kuns word aangeleer deur van catamarans gebruik te maak. Alhoewel dit baie stabiele bote is, kan al die beginsels van seil baie goed hier geleer word. Die kursus word afgesluit met 'n baie opwindende regatta. 'n Verkenner wat die kenteken voltooi, kan op sy eie 'n boot opslaan en gaan seil in matige wind toestande. Elke Verkenner word met 'n spesiale toekenning en sertifikaat beloon na sy/haar eerste suksesvolle alleenvaart.
Kamp Nakuphi is die enigste kamp waar hierdie kenteken op 'n baie hoër vlak as net die kentekenvereistes aangebied word. Behalwe die basiese vereistes van snorkelduik word die verkenner ook aan die skubaduikkuns/-sport voorgestel. Hierdie is 'n baie gesogte kenteken/kursus en ons laat slegs 10 verkenners tot die kursus toe.
In hierdie kursus gaan die verkenner nou al die fynere kunsies van waterwerk wat hulle nou die laaste paar jaar by al die vorige waterwerk kursus geleer het, prakties in 'n oorlewings situasie moet toepas. Die hele kursus word baie soos die gesogte "survival" reeks benader waarby gesonde kompetisie, ook 'n groot rol gaan speel.